Die twee musiekgroepe ONS en Rooksein het saamgespan om ‘n nuwe klankbaan, genaamd Stellies, vir die Universiteit Stellenbosch te skep.
Fanie Nel van Coleske Group sê die akademiese jaar is in volle swang en kampusse bruis weer van energie. Boonop voel hy daar is geen beter manier as om dit met die samewerking van twee opkomende musiekgroepe af te skop nie.
Die musiekgroep ONS bestaan uit Marco van Deventer en Ruvé Erasmus en die musiekgroep Rooksein uit Renier van der Westhuizen, Dian Maritz en Megan Tait.
“Die internet was aan’t gons met ‘n oënskynlike vete tussen die groepe, maar aanhangers is gou reggehelp; dit was inderdaad alles deel van die opbou vir hul nuwe liedjie, Stellies,” vertel Nel.
En hoe het die samewerking tot stand gekom? “Ons was nog altyd geïnspireer deur Rooksein se unieke musiekproduksie en het gevoel dat ons lirieke en sosialemedia-benadering goed sou saamwerk met hul klank,” sê Marco. “Dit is moeilik om te verduidelik hoekom ons saam met ONS gewerk het, maar dis soos eende uit dieselfde dam. Ons het nog altyd bewondering vir mekaar gehad en vul mekaar in verskeie aspekte aan. Boonop is ons eintlik goeie vriende,” voeg Renier by.
En dan word daar verklap alhoewel Stellies met slegs ‘n vers en ‘n koor Marco se idee was, het Renier met die tweede vers en brug ingespring. “Die hoofkonsep en struktuur het van ONS gekom en Rooksein het gehelp om dit af te rond. Ons het Rooksein se vervaardiger gebruik om die liedjie ’n effens meer band– en Rooksein-vibe te gee. Dit is ’n wonderlike balans tussen beide ons style,” verduidelik Renier.
Stellies is lig en nostalgies en het ‘n dubbele betekenis. “Wanneer ek van Stellies praat, verwys ek eintlik na iemand van wie ek hou. Maar ons wil ook hê dat eerstejaarstudente nostalgies na hierdie liedjie kan terugkyk, en mense elders moet dit kan sien as ‘Ek hou van Stellies’,” sê Ruvé. “Stellenbosch is net ’n ongelooflike plek. ’n Mens is bevoorreg om daar te wees en jy is net een keer jonk, maak die meeste van elke oomblik!” stem Dian saam.
“Ons begin nou eers regtig as ’n groep en is gereed om die beste musiek van ons lewens te maak. Die afgelope sewe jaar het ons ongelooflik gegroei en geleer, en ons is opgewonde om dit nou toe te pas. Hierdie liedjie is net die begin,” sê Renier van Stellies.
“Stellies sluit perfek by Begin, ONS se mees onlangse kortspeelplaat, in. Ons begin nou eers om ons plek in die musiekbedryf te vestig en met ander kunstenaars saam te werk. Maar ons sal altyd eg aan die ONS-klank bly,” sê Marco.
Oorspronklik was daar nie planne vir ’n musiekvideo nie, maar toe kom die inspirasie. “Ons het besluit om ons aanhangers se spesiale oomblikke te gebruik en saam te voeg in ’n musiekvideo, wat ons beplan om binne twee weke na die liedjie se vrystelling uit te bring,” vertel Megan.
Nel sluit af deur te sê daar word gehoop Stellies word die klankbaan van Stellenbosch-studente en voeg by ONS en Rooksein is gereed om die Afrikaanse musiekbedryf op horings te neem.
Stellies kan op alle stroomdienste gekry word.