Video-opnames in berig.
KWAZULU-NATAL. – ‘n Storm het Sondagmiddag om ongeveer 15:40 die Laer Suidkus getref, wat binne minute veroorsaak het dat die paaie oorstroom is en vloede ontstaan het.
Craig Botha van KwaZulu Private Ambulance sê berig is ontvang van paaie wat tussen Palm Beach en Port Shepstone oorstroom was. ’n Aantal wonings en sakepersele het ook deur die stygende water deurgeloop, insluitend die bekende Shelly Centre in Shelly Beach en South Coast Mall.
Botha het aangedui op dié tydstip is nog geen padongevalle of sterftes aangemeld nie. “Ons moedig die publiek aan om veilig te wees, hulle spoed te verminder as hulle ry, ligte aan te hê, lae brûe te vermy en nie dele van die pad waar water oorstroom te kruis nie.”
Video’s is aan die ambulansdiens verskaf, die oorsprong daarvan is onbekend aan Nuusflits.





