Beeldmateriaal in berig. Waarskuwing: taalgebruik.
VRYSTAAT. – ‘n Student het Sondag, nadat verdagtes in ‘n donkergrys Mazda 3 hom glo van twee selfone in Universitas, Bloemfontein, beroof het, aan die verdagte voertuig se deur bly hang, totdat hy afgeval het. Die voertuig is opgespoor, maar nog geen arrestasies is gemaak nie.
Sers. Mahlomola Kareli sê die polisie bevestig die video wat op sosiale media versprei word, is dié van die student wat na bewering beroof is. Die student het omstreeks 06:00 huis toe gestap toe die verdagte voertuig langs hom stop. Die passasier het na bewering uitgeklim en die student gepootjie, waarna hy geval en sy meisie se selfoon uit sy sak geval het. Die passasier wou dit optel, maar die student het dit probeer verhoed. Die bestuurder van die voertuig het uitgeklim om sy vriend te help, waarna die student se selfoon ook uit sy sak geval het. Die twee verdagte mans het met die selfone weggejaag.”
“Die 20-jarige slagoffer het aan die bestuurdersdeur vasgehou terwyl die voertuig wegjaag, maar het ná ‘n ent sy greep verloor en afgeval.”
Parkweg-polisie is ingelig, waarna die verdagte voertuig in Kgotsong, in Bloemfontein, gekry is. Nog geen arrestasies is gemaak nie.
“Die polisie het ‘n saak van poging tot moord en gewone roof vir verdere ondersoek geopen. Die slagoffer is vir mediese aandag na ‘n hospitaal geneem.”
Enigiemand met relevante inligting kan kapt. David Ramasoala by 082 468 1624 bel.




