KYK: Substasie ontplof -elektrisiteitsonderbrekings in Tshwane

Lees ook :

Foto: Verskaf Gé Breytenbach

GAUTENG. – Met deurdringende reën in Tshwane is die hele Pretoria-Oos Dinsdagaand in donkerte gehul, nadat die Nyala-invoerstasie gebrand en ontplof het. Intussen is die eletrisiteitstoevoer na dele in die gebied herstel. Die Stad Tshwane het Dinsdag gesê daar is weens die reën ‘n agterstand in die herstel van aangemelde probleme.

Volgens Cilliers Brink, DA-leier en voormalige burgemeester van Tshwane, het die betrokke invoerstasie se brand en ontploffing ‘n enorme kragonderbreking veroorsaak. Inligting is van Jacqui Uys en Malcolm de Klerk, Brink se kollegas, ontvang.

“Daar was ‘n spanningstransformator wat aan die brand geslaan het – die funksie van ‘n spanningstransformator is om die sub te beskerm en ‘n brand op hierdie komponent is nie noodwendig ‘n krisis nie – dit het basies net gedoen wat dit veronderstel was om te doen (op ‘n baie dramatiese manier). Tans is hulle besig om ondersoek in te stel om te sien of ander komponente beskadig is – deeglike toetse is gewoonlik in hierdie gevalle nodig, aangesien dit negatiewe implikasies kan hê as hulle aanskakel voor behoorlike toetsing en daar ‘n kans was dat iets anders beskadig is – dit kan tyd neem.
As daar geen ander komponente beskadig is nie, sal krag môre teruggeskakel word. As toetse groter skade aan die lig bring, sal ons eers ‘n pad vorentoe kan bepaal sodra ons weet wat daardie skade is.
Vir nou doen spanne wat hulle behoort te doen – toets die sub,”sê Uys.

In wat as ‘n chaotiese nag vir inwoners beskryf is, sê De Klerk amptenare het in haglike toestande aan lewendige elektrisiteit gewerk. “My persoonlike dank – nie aan top- of middelbestuur nie, maar aan die ouens in die letterlike modderige loopgrawe. Dankie aan die sekuriteitsmaatskappye en -forums wat die Ooste beskerm.”

Enigiemand wat steeds sonder elektrisiteit in die gebiede is, word versoek om ‘n verwysingsnommer deur rapporteringsplatforms te verkry.

Intussen is meer gebiede, wat dele van Soshanguve insluit, vanoggend sonder elektrisiteit. Gé Breytenbach, ‘n DA-raadslid, sê vertragings in die herstel van elektrisiteit moet verwag word, aangesien dit onveilig is om in die weersomstandighede aan die probleme te werk. Werk sal hervat word indien dit veilig is om dit te doen.

‘n Gebarste waterpyp se herstel in die Mayville-area word egter ook deur die weersomstandighede bemoeilik en watervoorsiening in die area is geraak.

Die stad ervaar ook ‘n probleem met die suprima voorafbetaalde aankoopsisteem wat van lyn af is en dit word ondersoek, aangesien die sisteem nie met die buitenetwerk kan koppel nie.

Nuusflits het voorheen berig daar is strukturele skade in die Montana-gebied aangerig nadat ‘n tornado gistermiddag deur die gebied is.

In ‘n verklaring wat hier onder gelees kan word, sê die Stad Tshwane daar is ‘n bestaande agterstand in die herstel van elektrisiteitsherstel, weens die aanhoudende reën.



Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief