Beeldmateriaal in berig.
GAUTENG. – ‘n Tornado het Dinsdagmiddag skade aan geboue, voertuie en strukture in die Montana-gebied, noord van Pretoria, aangerig.
Lindsay Mnguni van die Stad Tshwane-nooddienste sê noodreaksiespanne, bestaande uit brandbestryders en amptenare van ramprisikobestuur, is na die gebied ontplooi. Die insident is eers as ‘n vloed gerapporteer, waarna hulp van Innesdale-, Wonderboom- en Rosslyn-brandweerstasies na die area is om hulp te bied. Met aankoms in die gebied is aansienlike skade wat deur ‘n storm veroorsaak is, opgemerk. Bome is ontwortel, sinkplate is van dakke geruk en motorafdakke en ander strukture in Sefako Makgathorylaan (voorheen Zambezi-) het weggewaai. Geboue in die kompleks op die hoek van Veda- en Enkeldoornstraat, veral die boonste verdiepings, is erg beskadig. Geisers wat aan die buitekant van die geboue aangebring is en sinkdakke het deurgeloop. Inwoners is ontruim en is tydelik elders gehuisves sodat ‘n opname gedoen kan word hoe die families wat geraak is, bygestaan kan word.
Nog aanmeldings van vloede in Mapopane en Pretoria-Noord is ontvang, waar hulp ook gebied is.
Alhoewel geen beserings aangemeld is nie, vra nooddienste inwoners om aan veiligheidsmaatreëls gehoor te gee. Bly binnenshuis indien moontlik en bly weg van metaalvoorwerpe wat deur weerlig getref kan word. Vermy buitenshuise aktiwiteite tydens swaar weer en moenie onder geïsoleerde bome skuil nie. Motoriste en voetgangers moet versigtig wees vir gladde paaie en wanneer sigbaarheid swak is. Verskuif na hoër gebiede wanneer watervlakke styg. Vermy brûe, laagliggende areas en strome wat vol in vloed is.
Mnguni sê weerberigte word gemonitor en die Stad bly op ‘n hoë gereedheidsgrondslag en vra inwoners om dieselfde te doen.
In die geval van ‘n brand of reddingsinsident kan inwoners tolvry 107 of 012 358 6300 of 6400 bel.