JOHANNESBURG, GAUTENG. – ’n Veldlikkewaan wat onlangs in die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital opgeneem is weens skiet- en bytwonde, sterk goed aan.
Die veldlikkewaan is aanvanklik na die hospitaal gehaas nadat hy deur ’n hond gevang is. Tydens sy opname was hy erg gedehidreer, uitgehonger en lusteloos.
Nadat hy binneaarse voeding ontvang het, het X-strale gewys dat hy met ’n windbuks en ’n .22 geskiet is. Twee windbuksrondtes en een .22-rondte is in sy spiere geabsorbeer.
Die skietwonde is vermoedelik tydens dieselfde voorval toegedien wat hom tot so ’n mate verswak het dat dit vir ’n hond moontlik was om hom te vang.
Omdat die rondtes in sy spiere geabsorbeer is, was dit nie nodig om dit uit te haal nie. Volgens die hospitaal sterk hy goed aan en het al self begin eet.
Hulle waarsku dat die spesifieke veldlikkewane ’n bedreigde spesie is, en indien jy hulle beseer, jy Suid-Afrikaanse wette oortree.


Bron: Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital





