NOORDWES. – Die voorval van ‘n verkeersbeampte wat, soos aanvanklik gedink is aangeval word, is op ‘n wydverspreide video vasgevang. Die voorval het Maandagmiddag op die R503 tussen Klerksdorp en Hartbeesfontein plaasgevind. Twee mans het glo kort voordat die video gemaak is ‘n gewapende roof gepleeg en was deur die publiek gejaag, waarna hulle in die verkeersvoertuig probeer skuil het.
Voorlopige ondersoek het aangedui dat die publiek en verdagtes die verkeersbeampte op patrollie voorgekeer het. Die verdagtes het glo in die verkeersvoertuig probeer skuil, waar hulle deur die publiek aangerand is. Polisielede is deur die verkeersbeampte ontbied, waarna die publiek gevlug het. Die polisie het op ‘n vuurwapen en ammunisie beslag gelê. Die beseerde verdagtes is onder polisiebewaking na ‘n hospitaal geneem.
In ‘n gesamentlike verklaring het Wessels Morweng, die LUR van gemeenskapsveiligheid en vervoer, en genl.maj. Ryno Naidoo, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, die inhegtenisneming van die twee beseerde verdagtes bevestig. Hulle sal op aanklagte van gewapende roof en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie in die Klerksdorp-landdroshof verskyn, sodra hulle uit die hospitaal ontslaan word. Die 26-jarige sal ook op oortreding van die immigrasiewet aangekla word.
Die polisie ondersoek die voorval asook die inhoud van die video, waarna verdere stappe geneem kan word. Morweng en Naidoo het opgemerk dat misdaadverslagdoening deur die gemeenskap waardeer word, maar beklemtoon dat die inhegtenisneming van verdagtes onder die bevoegdheid van wetstoepassers val.
Die publiek word versoek om nie onbevestigde inligting te versprei nie.





