Bernice West en Droomsindroom het as Winter Hotel hul tweede enkelsnit, Koffiewinkel, uitgereik.
Fanie Nel van die Coleske Groep sê die liedjie vertel die romantiese verhaal van ’n man en ’n vrou wat mekaar in ’n koffiewinkel ontmoet en stadig verlief raak. Dit volg op die groep se debuutenkelsnit, Heuning, en vorm deel van hul komende album, Winter.
Volgens Winter Hotel vang Koffiewinkel die eerste opwindende oomblikke van ’n nuwe liefde vas, met die liedjie wat soos ’n flirterige gesprek tussen twee mense afspeel. Die snit is deur Kirsten geskryf en is aanvanklik volledig vanuit ’n manlike perspektief geskryf. Bernice het later ’n vroulike perspektief by die lirieke gevoeg, wat veral in die koor ’n wisselwerking tussen die twee karakters skep. Die enkelsnit word vergesel deur ’n nostalgiese musiekvideo met ’n retro-sewentigerjare-atmosfeer. Die video beeld die begin van die liefdesverhaal uit en sluit ’n ou Mercedes, ’n grondpad en ’n spontane padreis in.
Koffiewinkel het volgens die groep ’n meer gestroopte, kontemporêre klank as Heuning, met die fokus op die lirieke en die interaksie tussen die karakters.
Druk hier om Koffiewinkel op alle stromingsdienste te kry.