Laerskool treur oor onderwyseres wat in busongeluk sterf

Lees ook :

Foto: Laerskool Kathu

NOORD-KAAP. – Juffrou Ilze Posthumus, ‘n gr. 4-onderwyseres van Laerskool Kathu, se afsterwe het die gemeenskap van Kathu in rou gedompel. Sy het die naweek in ‘n tragiese busongeluk omgekom.

Laerskool Kathu het die busongeluk en haar afsterwe op sosiale media aangekondig en hul diepe hartseer uitgespreek oor die verlies van ’n toegewyde kollega wat ’n groot rol in die skool gespeel het. Volgens die skool was Posthumus ’n onlosmaaklike deel van die personeel en het sy ’n betekenisvolle bydrae tot die ontwikkeling van leerlinge en die skoolgemeenskap gelewer. Haar passie vir onderwys en haar omgee vir kinders het haar ’n geliefde figuur onder kollegas en leerlinge gemaak.

Sy laat haar man, Wihan, hul dogtertjie Clara, asook haar ouers, Leon en Lettie Botha, agter. Die skool het ook sy medelye betuig met familie, vriende en almal wat deur haar afsterwe geraak is.

“Dit is met diepe leedwese dat ons bekendmaak dat ons kollega, juf. Ilze Posthumus (Graad 4.1), oorlede is in die tragiese busongeluk van Saterdag 13 Junie 2026. Ons opregte medelye aan juf. Ilze se man, Wihan, dogter, Clara, ouers, Leon en Lettie Botha, familie, vriende, kollegas en die hele Kathu-gemeenskap. Sy was ’n onlosmaaklike deel van ons personeelgroep wat ’n enorme bydrae tot die skool gelewer het. Sy sal vir altyd in ons harte voortleef en ons sal haar ontsettend baie mis.”

Die skool het Saterdag gesê: “Daar was ‘n ernstige ongeluk met een van ons busse vroeër vanoggend op pad Kuruman toe. Ons leerders is ongedeerd. Hou asseblief ons onderwysers, kinders en ouers in jul gebede.” “Dit is met diepe hartseer dat Laerskool Kathu aankondig dat een van ons skoolbusse wat personeel en leerders na die finale van die Van Druten-liga, aangebied deur Laerskool Seodin in Kuruman, vervoer het, in ’n ongeluk op die N14 sowat 12 km voor Kuruman betrokke was. Dit is met swaar harte dat ons bevestig dat een van ons onderwyseresse in die ongeluk oorlede is. Haar naam word in hierdie stadium nie bekendgemaak nie om tyd te gee dat naasbestaandes in kennis gestel word. Berading word tans vir die personeel en leerders gereël. Enigiemand wat berading benodig, kan asseblief met hul registeronderwyser reël. Onder die 44 leerders wat in die bus was, was daar geringe beserings en hulle is deur nooddienspersoneel by Laerskool Seodin ondersoek. Ons kan bevestig dat 6 van ons personeellede en afrigters in die ongeluk beseer is. Nooddienste was vinnig op die toneel en het die personeel na die Lenmed-hospitaal in Kathu geneem. Van daar word vier persone per lugambulans en ambulans na Bloemfontein en Kimberley oorgeplaas terwyl een in Kathu agterbly vir observasie.

Laerskool Kathu en die SBL bedank vir Curro Kathu wat ons leerders vanaf die toneel na Laerskool Seodin vervoer het. Ons bedank ook vir Laerskool Seodin wat ons personeel en leerders versorg het. Ons waardeer dit. Ons bedank ook alle nooddienspersoneel, hospitaalpersoneel en vrywilligers en die breër Kathu-gemeenskap wat ons bygestaan en ondersteun het. Baie dankie aan al die skole en organisasies wat vir ons boodskappe van meelewing stuur.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief