NOORDWES. – Die langste Kersboom in Suid-Afrika, die GST Beacon of Hope, troon hierdie jaar ‘n ongelooflike 45 m hoog die lug in.
GST SA in Hartbeespoort het hierdie jaar se boom reeds Sondag deur Johan Ingram, GST se hoof- uitvoerende beampte, onthul. Werknemers en liefdadigheidstigtings het hierdie oomblik meegemaak.
Die boom simboliseer vooruitgang en groei in die gemeenskap en skyn helder as ‘n bewys van die krag en veerkragtigheid van die menslike gees.
Hierdie jaar is die boom, wat op verlede jaar se sukses volg, 7 m hoër. Asof dit nie al is nie, is daar 6 km, meer as 40 000, se flonkerende LED-ligte aan die boom aangebring. In Thabazimbi is ook ‘n Beacon of Light en in Nigerië ‘n Beacon of Joy opgerig.
“Laat ons almal geïnspireer wees deur hierdie bakens van hoop en mag hulle ons aanmoedig om ons eie meesterstukke van positiwiteit en veerkratigheid in ons gemeenskappe te skep. Saam kan ons vreugde en hoop aan almal versprei, wat bewys dat selfs in die aangesig van teëspoed, daar altyd ‘n rede is om in ‘n beter môre te glo.”
Vir meeer inligting kan https://gstbeaconofhope.com besoek word.









