Laurika Rauch groet haar aanhangers na 50 jaar

Lees ook :

Foto: Fanie Nel

Laurika Rauch, die befaamde sangeres wat vir vyf dekades Suid-Afrikaners met stories en liedjies bekoor het, sê totsiens en boonop in die jaar wat Afrikaans 100 jaar oud is.

““Daar moet ’n punt kom waar ek sê ek sê totsiens”


Fanie Nel van Coleske Group sê Laurika groet boonop met ‘n kortspeler van vyf liedjies en ‘n spesiale dokumentêr: Laurika se Tuiskoms. Die dokumentêr word Saterdag om 20:00 op kykNet, kanaal 144, uitgesaai.

“Laurika Rauch neem ná vyf dekades van onvergeetlike musiek en stories afskeid van haar ondersteuners. Haar reis eindig nie in stilte nie, maar in ’n viering van ’n buitengewone loopbaan.”

Nel beskryf Laurika se finale kortspeler met vyf liedjies as ‘n geskenk aan haar ondersteuners, waarvan die snit, Nog Voor Ek Jou Geken Het, vandag uitgereik is. Die volledige kortspeler sal op 31 Januarie uitgereik word.

Laurika beskryf die maak van haar laaste kortspeler: “Heel van die begin af, toe ons begin liedjies kies het vir hierdie EP, was dit een van my lekkerste werkservarings. Ek het soveel ondersteuning, kundige hulp en entoesiasme vanaf Arnold Coleske, Paulo Azevedo, die ander lede van die Coleske-span, die lieflike liedjieskrywers en die twee vervaardigers ontvang. Ek het agt jaar gelede laas nuwe liedjies opgeneem, en ek wou nie net ‘verdwyn’ sonder om te groet nie.”

Nel sê voorts die vyf snitte van die kortspeler verteenwoordig elkeen ‘n unieke uitdrukking van verskillende vorme van liefde. Nog Voor Ek Jou Geken Het van Johan Oberholzer gaan oor romantiese liefde. Huis van Marco van Deventer, wat ook die titelsnit is, gaan oor liefde vir ‘n tuiste en sy mense. Bloekompraatjies van Lize Beekman gaan oor liefde vir ‘n lewensmaat en is ‘n afskeidsgedig en ode van Bert Gericke aan sy vrou van 65 jaar lank. Ek Wil Jou Belowe van Coenie de Villiers en Deon Meyer gaan oor die liefde vir ‘n kind of geliefde. Liewe Lewe, ‘n duet met Christi van Niekerk, gaan oor die viering van liefde en die lewe.

Laurika verklap oor Nog Voor Ek Jou Geken Het, wat spesiaal deur Johan Oberholzer vir haar stem geskryf is: “Dit is nie net die liedjie self wat my bekoor nie, maar ook Johan se unieke stem en frasering wat altyd uitstaan. Hy het ’n besonderse talent, en hierdie keer het ek sy frasering behou, omdat dit so natuurlik reg is vir die liedjie. Dit is ‘n lied is wat in ’n klas van sy eie staan en ’n sterk emosionele reaksie by mense wat dit al gehoor het, ontlok. Ek hoop natuurlik heimlik dat dit eendag ’n gewilde keuse vir die openingsdans by troues sal wees!”

Die dokumentêr, waarvoor Laurika vir almal se liefde en bydraes dankbaar en oorweldig is, se voorskou was Donderdagaand by Ster-Kinekor in The Grove Mall in Pretoria. Sy beskryf Carien Louber en Brainwave Productions as ‘n produksiespan wat kundig is en ten volle vertrou is, terwyl sy wanneer nodig geag is, steeds insae gehad het: “Carien laat haar nie afskrik deur struikelblokke nie en skep ’n produksieproses wat glad en vreugdevol verloop. Om saam met haar te werk, is ’n totale kreatiewe plesier. Ek kon altyd sê as iets my gepla het en het gevoel dat ek gehoor word. Dit was ’n lieflike ervaring.”

Nel beskryf Laurika se Tuiskoms as ’n intieme blik op Laurika se lewe saam met Chris Torr, haar man en hulle kinders, Simon en Nina, met sommige tonele wat tuis saam met haar geliefdes verfilm is. Dit bevat spesiale bydraes van kunstenaars, liedjieskrywers, vervaardigers en ander betrokkenes, waarvoor Laurika haar opregte dank uitspreek. Die kollig is natuurlik op die vyf nuwe, laaste liedjies en wys hoe Laurika saam met ander kunstenaars in die ateljee daaraan werk, en dit word met hoogtepunte uit haar loopbaan verbind.

Vir diegene wat kan onthou, het Laurika in 1976 vir die eerste keer op televisie verskyn en haar loopbaan op die verhoog begin vestig, nog lank voordat Kinders van die Wind in 1979 ’n treffer geword het.

Met ’n loopbaan vol hoogtepunte en mylpale, was daar natuurlik baie meer materiaal as wat in ’n 90-minute program kan pas en Laurika bedank haar ondersteuners opreg: “Dankie dat jy my vertonings bygewoon het en steeds na my musiek luister. Jou woorde en waardering het sin aan my lewe en werk gegee. Ek voel geseënd en bevoorreg om hierdie pad saam met jou te kon stap. Mag dit goed gaan, en geniet elke liedjie asof dit net vir jou gesing is. Dit sal my baie gelukkig maak!”

“Ek is bly dat ek vanjaar nog ’n bydrae kan lewer tot hierdie viering,” sê Laurika oor Afrikaans se 100ste bestaansjaar en beskou die tydsberekening van haar afskeid as soete toeval.

“Met hierdie projek sluit Laurika ’n merkwaardige hoofstuk af, maar haar stem en musiek sal voortleef in die harte van haar ondersteuners. Laurika se Tuiskoms is ’n uitnodiging om saam met haar hierdie spesiale laaste oomblikke te deel,” sluit Nel af.

Kyk en luister hier na die laaste kortspeler en volg Laurika op sosiale media.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief