GAUTENG. – ‘n Gr. 9-meisie van Hoërskool Davey in Daveyton, Ekurhuleni, het glo Dinsdag selfdood gepleeg.
Steve Mabona, GDO-woordvoerder sê die polisie ondersoek steeds die omstandighede rondom die leerling se dood. Die departement het ook ’n interne ondersoek na bewerings van boeliery teen die oorledene van stapel gestuur.
Sielkundige ondersteuningspanne is na die skool gestuur om berading aan alle betrokkenes te bied. Die LUR vir onderwys, Matome Chiloane, moedig leerlinge aan om hulp te soek en kennis te neem van beskikbare strukture en hulpbronne soos Childline (116), die South African Depression and Anxiety Group (SADAG: 0800 567 567 / 0800 456 789) en die GDE (0800 000 789 / WhatsApp 060 891 0361).
Die departement sê die samewerking met SADAG het positiewe resultate in ander skole opgelewer en sal voortgesit word met bewusmakingstoere oor geestesgesondheid vir leerlinge. Chiloane het meegevoel met die oorledene se familie en skoolgemeenskap betuig.