Brekende Nuus
Afrikaans

Leerlinge deur ‘dronkbestuurder’ gestamp

Foto's: Reaction Unit South Africa
Foto's: Reaction Unit South Africa

KWAZULU-NATAL. – Vier leerlinge van Laerskool Redcliffe is Dinsdag deur ‘n man wat glo dronk was met ‘n bakkie gestamp. Die kinders het vir hulle geleentheid na skool gewag, toe hy in die groep ingeploeg het.

Reaction Unit South Africa sê dié diens is net na 14:00 vir hulp ontbied. Met aankoms op die toneel het ‘n ooggetuie vir reaksiebeamptes vertel die bestuurder van ‘n wit Opel Corsa-bakkie het te voet van die toneel gevlug. Die reaksiebeamptes is agterna en die bestuurder is aangekeer. Beeldmateriaal van die man wat aangekeer is, is deur Rusa gedeel en kan hier bo gesien word.

Die leelinge, van gr. 1 tot gr. 3, het matige beserings opgedoen en is privaat na ‘n plaaslike kliniek geneem. Twee van die beseerde leerlinge is tweelingsusters.

Rusa-lede is ingelig die man het na bewering van ‘n vuurwapen ontslae geraak terwyl aan die vlug was. Tydens ‘n soektog is ‘n leë vuurwapen glo in ‘n kerk se erf gevind. ‘n Halfgedrinkte bottel brandewyn is glo ook in die bakkie gekry.

“Die bakkie is geskut en die bestuurder is by SAPD-Verulam aangehou.”