Leerlinge van hoërskool in die Kaap ontvang traumaberading na ‘diversiteitskursus’

Lees ook :

Fotokrediet Google Maps

Leerlinge van Hoërskool Vishoek in die Kaap ontvang traumaberading nadat hulle Maandag “getraumatiseer” is deur ‘n sogenaamde “diversiteitskursus” wat vir hulle aangebied is.

Die leerlinge is glo so getraumatiseer deur die inhoud van die kursus oor rassisme en geloof dat die hulp van sielkundiges ingeroep moes word.

Dr. Wynand Boshoff, VF Pus-LP en hoof-woordvoerder vir basiese onderwys, het ‘n verklaring uitgereik waarin hy die gedwonge kursus veroordeel.

‘n Totaal van 800 leerders was verplig om die kursus by te woon om te hoor dat slegs wit mense rassiste is en hoe Christenskap aangeval word.

Die VF Plus het besluit om ‘n klagte by die MRK in te dien teen die Wes-Kaapse departement van onderwys oor die gedwonge kursus wat die leerlinge in so ‘n toestand gehad het.

Die kinders was ook vervolgens verbied om hulle selfone te gebruik vir opnames en video’s en indien hulle sou, sou dit uitgevee word.

Sommige leerlinge het dit wel gedoen en hul ongelukkigheid kan op die opnames gehoor word.

Onderwysers was nie toegelaat nie en ‘n seun wat oor plaasmoorde uitgevra het, is summier stilgemaak. ‘n Dogter wat badkamer toe wou gaan, het aan ‘n onderwyser gesê daar is ‘n probleem. Hy het saam met haar na die kursuslokaal teruggegaan, maar is beveel om uit te gaan.

Die sielkundiges wat by die skool is om die kinders te behandel, is blykbaar dieselfde persone wat die kursus aangebied het.

Lees die volledige verklaring hier:

Mediaverklaring uitgereik deur:
🟢 🅓︎🅡︎. 🅦︎🅨︎🅝︎🅐︎🅝︎🅓︎ 🅑︎🅞︎🅢︎🅗︎🅞︎🅕︎🅕︎

VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Basies onderwys

3 November 2022

In wat herinner aan die gebeure op Schweizer-Reneke in 2019, is leerlinge van die hoërskool op Vishoek Maandag só erg getraumatiseer deur ʼn sogenaamde “diversiteitskursus” oor rassisme en geloof by die skool dat talle van hulle sielkundige berading ontvang.

Die gedwonge “kursus” is deur die DA- provinsiale regering se onderwysdepartement gereël en aangebied.

Die DA-regering pas dieselfde gefaalde rasgedrewe ideologie as die ANC toe wat tot rassepolarisasie lei en ‘n beter toekoms van gelyke geleenthede vir almal bedreig.

Altesame 800 leerlinge is verplig om dit by te woon en moes vir twee en ʼn half ure onder meer luister dat slegs wittes rassiste kan wees terwyl daar ook ʼn skerp aanval op Christenskap gedoen is.

Die VF Plus gaan ʼn klag by die menseregtekommissie (MRK) teen die Wes-Kaapse departement van onderwys indien oor die aangeleentheid.

Volgens ouers en inligting in die VF Plus se besit, het drie amptenare vergesel van ses sielkundiges van die departement dié “kursus” van twee en ʼn half uur lank aangebied. Onderwysers moes buite wag.

Leerlinge is belet om opnames te maak en is gedreig dat hul fone afgeneem en enige opname of foto skoongevee sou word indien hulle wel ʼn opname maak. Enkele leerlinge het dit wel gedoen.

Op die opnames kan duidelik gehoor word hoe die uitlatings groot ontevredenheid onder die leerlinge veroorsaak.

ʼn Seun, wat duidelik ontsteld was, het gevra waarom swartes dan betrokke is by soveel plaasmoorde. Hy is op beledigende wyse die swye opgelê en is nie toegelaat om verder te praat nie.

ʼn Dogter kon wel die saal verlaat met die verskoning dat sy dringend die badkamer moes besoek. Sy is na ʼn onderwyser en het aan hom vertel dat die kinders erg getraumatiseer word in die saal.

Hy is saam met haar terug en het probeer om die kursus stop te sit, maar is beveel om die saal te verlaat.

Volgens ouers was die kinders erg verward en ontsteld oor die uitlatings, veral omdat leerlinge van alle rasse van die skool baie goed met mekaar oor die weg kom.

Die departement het glo besluit om die kursus aan te bied nadat ʼn Afrikaanse onderwyseres vroeër vanjaar in ʼn opvoedkundige gesprek met leerlinge verwys het na die “k”-woord waarmee swart mense lank beledig is.

Die Wes-Kaapse departement het haar aangekla, maar sy is onskuldig bevind aan enige oortreding. Tog was die druk op haar blykbaar só groot dat sy moes bedank. Dit is glo gebruik as rede vir die “kursus”.

Volgens ouers het die optrede van die departement nou kwaad gesaai waar daar liefde en wedersydse respek tussen leerlinge was.

Ouers is hierdie week verder ontstel toe die sielkundiges wat in die saal was tydens die sessie, nou terug is by die skool om die leerlinge “traumaberading” te gee.

ʼn Ma van een van die leerlinge sê dit is ʼn belediging dat dieselfde mense wat betrokke was toe die trauma veroorsaak is, nou berading moet gee en dat dit die skade wat aangerig is, net vererger.

Die VF Plus het verskeie vrae oor die aangeleentheid gerig aan die skoolhoof, mnr. Steven Joubert.

Hy was blykbaar nie geneë om die kursus te laat aanbied nie en het gesê dit sou die kinders veral in eksamentyd ontwrig. Hy is glo geen keuse gelaat nie.

Mnr. Joubert het die VF Plus verwys na me. Bronagh Hammond, die Wes-Kaapse onderwysdepartement se direkteur van kommunikasie.

Verskeie pogings om haar telefonies op haar kantoornommer te bereik, was onsuksesvol.

Dit is vir die VF Plus jammer dat kinders deur die aangeleentheid geraak is. Soos wat in Schweizer-Reneke gebeur het, was dit onnodig, ondeurdag en het onskuldige mense die ergste benadeel.

Dit wil voorkom of die DA nie ʼn les geleer het uit wat op Schweizer-Reneke gebeur het nie.

Buiten die klag dring die VF Plus daarop aan dat die DA in die Wes-Kaap onmiddellik opdrag gee dat die onderwysdepartement die betrokke amptenare verbied om hulle enigsins verder met enige skool in die provinsie te bemoei.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief