GAUTENG. – Gayton McKenzie en Peace Mabe, onderskeidelik die minister en adjunkminister van sport, kuns en kultuur, het hul hartseer uitgespreek oor Seputla Sebogodi se afsterwe. Sebogodi was ‘n bekroonde Suid-Afrikaanse akteur, dramaturg, regisseur en teaterkunstenaar.
Sebogodi, wat in Pretoria gebore en grootgeword het, het meer as vier dekades lank ‘n groot bydrae tot die land se kunste gelewer. Hy was veral bekend vir sy rol as Kenneth Mashaba in die televisiereeks Generations, maar het ook in onder meer Yizo Yizo, Scandal!, Rhythm City, The River, The Republic en die internasionale rolprent The Woman King verskyn. Volgens McKenzie het Sebogodi deur sy werk miljoene Suid-Afrikaners geraak en talle jong kunstenaars geïnspireer. Hy het gesê die land het een van sy grootste kunstenaars verloor.
Mabe het Sebogodi as ‘n uitnemende storieverteller, mentor en ambassadeur vir Suid-Afrikaanse kuns en kultuur beskryf. Sy het gesê sy nalatenskap sal voortleef deur die mense wie se lewens hy op en agter die verhoog geraak het.
Die departement van sport, kuns en kultuur het sy innige meegevoel met Sebogodi se familie, vriende, kollegas en die breër kreatiewe bedryf uitgespreek en gesê sy bydrae tot Suid-Afrikaanse kuns en kultuur sal onthou word.





