Brekende Nuus
Afrikaans

Legendariese ‘Sultan van Blinkers’ dood op 87

Foto: Instagram

INTERNASIONAAL. – Bob Mackie, wat skitterende kostuums vir sterre soos Cher, Tina Turner, Dolly Parton, Pink, Miley Cyrus en Elton John ontwerp het, is op 87-jarige ouderdom oorlede.

Die Amerikaanse modeontwerper, wat vanweë sy sprankelende skeppings as die Sultan of Sequins bekend gestaan het, het in sy loopbaan ’n Tony-toekenning en nege Emmy-toekennings gewen en is drie keer vir ’n Oscar benoem.

Volgens die BBC het Mackie veral ’n groot invloed op Cher se loopbaan gehad en het die ikoniese mohawk-uitrusting ontwerp wat sy in 1986 by die Oscars gedra het. Dit het bekend geword as haar “wraakuitrusting”, omdat sy dié jaar vir geen toekenning benoem is nie.

Die kostuum, geïnspireer deur ’n showgirl se voorkoms, het ’n geveerde mohawk-hooftooisel ingesluit en Cher se kaal middellyf ontbloot – ’n baie nuwe en destyds uiters skokkende voorkoms.

Die kostuum het ’n plek in die modegeskiedenis verwerf as een van die gewaagdste en mees buitensporige uitrustings wat nog by die toekenningsgeleentheid verskyn het.

Bronne: BBC News, France 24