Te midde van die opwinding van matrikulante se uitslae, het Mmusi Maimane, die leier van die politieke party Build One South Africa (Bosa) ‘n aanlyn petisie begin wat eis dat Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, bedank.
Volgens hom het Motshekga nie daarin geslaag om kwaliteitonderwys te lewer wat markrelevant en kompeterend op internasionale vlak is nie.
Maimane sê die hoë werkloosheid is ’n duidelike resultaat van die 30% slaagsyfer. Hy meen dit berei leerders glad nie voor vir dit wat na skool vir hulle wag nie. Die party is ook van mening dat kwaliteitonderwys net aan diegene beskikbaar is wat dit kan bekostig.
“Die 30% slaagsyfer moet geskrap word en daar moet seker gemaak word dat ons kinders teen 50% kan kompeteer,” het hy gesê.
BOSA is van mening dat Motshekga nie die uitvalsyfer en -tendens die afgelope paar jaar kon verminder nie. Motshekga is al vir die afgelope 15 jaar aan die stuur van die basiese onderwysportefeulje.
Bronne: ENCA, EWN





