KWAZULU-NATAL. – ’n Lewendige handgranaat is Maandagoggend op ’n vullishoop by ’n suikerrietplaas in Blackburn, KwaZulu-Natal, ontdek.
Volgens Reaction Unit South Africa (Rusa) is hulle omstreeks 09:03 na die toneel ontbied nadat plaaswerkers die handgranaat opgemerk het. ’n Plaaswerker het die ontdekking gemaak terwyl hy besig was om suikerriet op ’n sleepwa te laai. Die granaat is tussen die vullis opgemerk, met die pen steeds in plek.
Die werknemer het sy werkgewer ingelig, waarna die Rusa-operasiesentrum gekontak is vir bystand. Reaksiebeamptes is ontplooi, waarna die polisie (SAPD) se bomopruimingseenheid kort daarna op die toneel was om die toestel veilig te verwyder.
Ondersoeke duur voort om vas te stel waar die granaat vandaan kom en hoe dit op die plaas beland het.





