MPUMALANGA. – ’n Man (63) is tot lewenslange tronkstraf en addisioneel nog 10 jaar vir ontvoering en verkragting van ‘n vrou (53) in die Nelspruit-hof vir seksuele misdade gevonnis. Die man en vrou was in ‘n liefdesverhouding betrokke.
Monica Nyuswa, woordvoerder vir die NVG, sê die slagoffer het tussen 1 en 18 November 2018 van haar huis in KaBokweni verdwyn en is as vermis aangemeld. Sy het nege dae later die beskuldigde se foon gesteel en haar suster gebel. Sy het gesê waar sy aangehou word en dat sy hulp nodig het. Die polisie is ontbied en het op die beskuldigde se woning toegeslaan, waar toegang geweier is. Hulle het toegang forseer en die slagoffer erg ondervoed aangetref. Die beskuldigde is in hegtenis geneem en aangekla, maar het in die hof onskuldig gepleit.
Leana Jones, die staatsaanklaer in die saak, sê die beskuldigde het die slagoffer herhaaldelik verkrag en haar sonder kos en water aangehou. ’n J88-vorm wat haar beserings dokumenteer, is as bewys ingedien. Die hof het haar getuienis as betroubaar beskou en die man skuldig bevind. Buiten die tronkstraf word sy naam ook in die nasionale register vir seksuele oortreders aangebring en hy is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





