KWAZULU-NATAL. – ‘n Man (40), is vir ‘n meisie (8), se verkragting en aanranding met die doel om ernstig te beseer, deur die Eshowe-streekhof tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder vir die NVG, sê die misdade is in September 2021 gepleeg. Die klaagster en haar jonger sib het saam met die veroordeelde man in ‘n huis gebly. Hy is as die “herder” van die huis beskryf. Die aand van die misdaad het die man besope by die huis gekom en die klaagster met sy hande en ‘n besemstok aangerand. Sy het beserings aan haar oë opgedoen.
Hy het haar daarna gewurg en op die bed gegooi waar hy haar in die teenwoordigheid van haar jonger sib verkrag het. Die voorval is aan die kinders se ouma vertel, waarna die man deur die gemeenskap vasgetrek en aan die polisie oorhandig is.
Die hof het die eerste aanmelding, asook die getuienis van die jonger sib en ‘n mediese dokter aangehoor. In ‘n slagofferimpakverklaring sê die slagoffer haar kindwees is van haar beroof, omdat sy geboelie word en nou as die kind wat verkrag is, bekend staan.
Die verkragter is tot lewenslange tronkstraf gevonnis en is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit. Sy naam sal ook in die nasionale register vir seksuele oortreders aangebring word en hy sal nie toegelaat word om met kinders te werk nie.





