LIMPOPO. – ‘n Man (38) is Maandag deur die Tzaneen-streekhof tot lewenslange tronkstraf vir die herhaaldelike verkragting van sy niggie gevonnis.
Kol. Malesela Ledwaba sê in September 2021 en Februarie 2022 sou die beskuldigde die kind na sy huis langs dié van die slagoffer sleep en haar dan in sy slaapkamer verkrag. Die meisie het uiteindelik aan haar suster (20) vertel dat sy verkrag word. Die suster het dit aan hulle pa vertel, maar hy het dit geïgnoreer. Sy wou haar jonger sussie na die polisiestasie neem, maar die beskuldigde, wat daarvan uitgevind het, het hulle met die dood gedreig.
Ledwaba sê die verkragting het voortgeduur en die kind het vir haar suster gesê sy word met kleingeld ná die verkragtings betaal. Die ouer suster het vir haar kleiner sussie gesê om die verkragting by haar onderwyseres aan te meld. Die polisie is ontbied en ‘n saak is geopen en na die GKS-eenheid vir ondersoek oorgeplaas.
Sers. Glenda Mathebula het die beskuldigde in hegtenis geneem en borg suksesvol teengestaan, totdat hy skuldig bevind en gevonnis is.





