Lewenslange tronkstraf vir reeksverkragter wat sy ouma verkrag

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

NOORD-KAAP. – ’n Man (35) is deur die Mothibistad-streekhof tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy aan die verkragting van sy ouma (72 ten tyde van die misdaad), wat hom grootgemaak het, skuldig bevind is. Die man se naam word weerhou om die slagoffer te beskerm.

Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder vir die NVG, sê die beskuldige (toe 29 jaar), het in Kagung-dorp naby Kuruman saam met sy ouma gebly. Op 12 September 2020 is hy volgens hofstukke terwyl sy ouma besig was om te bad, deur ’n sekere “gevoel” oorweldig om seksuele omgang met sy ouma te hê. Hy is na haar slaapkamer waar hy haar oorrompel en verkrag het.

Die klaagster, wat van ’n loopstok gebruik maak, kon daarin slaag om weg te kom en hulp by ’n buurvrou te soek. Die polisie is ontbied en die beskuldigde is in hegtenis geneem. ’n Mediese ondersoek het verkragting bevestig. Sy het getuig dat sy pyn ná die misdaad ervaar en sukkel om te loop. Die Kuruman Thuthuzela-sorgsentrum het deurlopende ondersteuning aan die klaagster gebied, veral nadat die saak in 2021 weens uitstaande DNS-resultate van die hofrol verwyder is. Die saak is later weer op die hofrol geplaas.

Bernice Bronkhorst-Oor, die staatsaanklaer in die saak, het ter verswaring van die vonnis aangevoer dat die beskuldigde geen berou getoon het nie en dat hy nie eerlik was nie. Sy het verder aangevoer dat hy ’n gevaar vir die samelewing inhou en permanent daaruit verwyder moet word. Die hof het bevind dat die beskuldigde ’n swak getuie is en dat sy weergawe van die gebeure nie redelikerwys waar kon wees nie. Hy het geen omstandighede aangebied wat die hof sou toelaat om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie.

Die beskuldigde het reeds ’n vorige skuldigbevinding aan verkragting in 2008, waarvoor hy in 2015 in geheel ‘n opgeskorte vonnis ontvang het, aangesien hy toe minderjarig was. Die hof het hom skuldig bevind aan die verkragting van sy ouma en tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Hy is verder onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit en as ongeskik geag om met ouer persone te werk. Sy naam sal ook in die nasionale register vir seksuele oortreders aangebring word.

Senokoatsane sê boonop was die beskuldigde reeds in aanhouding weens ’n ander verkragtingsaak waarin hy beskuldig is dat hy sy vriend se vriendin verkrag het, ná ’n aand saam by ’n plaaslike kroeg. Hy is as ‘n reeksverkragter bestempel.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief