GAUTENG. – Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het besluit om individue te vervolg wat verbind word met nalatigheid in die aanloop tot die Life Esidimeni-sterftes. Tussen 2015 en 2016 is minstens 141 pasiënte dood nadat hulle uit geregistreerde sorgfasiliteite na ongeregistreerde en onvoldoende toegeruste organisasies oorgeplaas is.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê die besluit volg ná ’n lang ondersoekproses, hofverrigtinge en die bevindinge van die geregtelike doodsondersoek, wat ernstige nalatigheid en stelselmatige mislukkings binne die Gautengse departement van gesondheid uitgelig het. Mahanjana sê die NVG erken die lang wagtyd en pyn wat families moes verduur terwyl die saak deur die regstelsel beweeg het en dat die finale besluit eers geneem kon word nadat dit deur die nasionale direkteur van openbare vervolging goedgekeur is. Die voormalige NDOV het einde Januarie afgetree en adv. A Mothibi, die nuwe NDOV, is volledig ingelig.
Regter Teffo het die geregtelike doodsondersoek gelei, wat bevind het dat verskeie sterftes die gevolg was van nalatigheid en swak bestuur en het ook sekere individue geïdentifiseer wie se optrede moontlik tot strafregtelike vervolging kan lei. Die NVG sê daar is wel voldoende gronde om vervolging in te stel, wat onder meer aanklagte van strafbare manslag kan insluit teen diegene wat vir die onregmatige optrede verantwoordelik gehou word. Volgens die vervolgingsgesag is hierdie besluit ’n belangrike stap in die soeke na geregtigheid en aanspreeklikheid vir die slagoffers en hul families.
Verdere besonderhede oor hofdatums en aanklagte sal later bekendgemaak word.
Druk ook hier om meer te lees.




