Brekende Nuus
Ongelukke

Ligte vliegtuig stort in Midrand neer

Foto: Vision Tactical

GAUTENG. – Die R101 in Midrand tussen New Road en Grand Central Boulevard in die rigting van Centurion is gesluit, nadat ’n ligte vliegtuig in die gebied neergestort het. Twee mense het ligte beserings opgedoen.

Volgens Vision Tactical is die twee insittendes vir verdere ondersoek en behandeling na ’n mediese fasiliteit vervoer. Geen ernstige beserings is aangemeld nie. Dié diens, nooddienste en ander relevante hulpbronne was op die toneel en die gebied is beveilig terwyl die voorval hanteer word.

Die R101 is volgens CERT-SA gesluit. Motoriste word versoek om die gebied te vermy en alternatiewe roetes te gebruik.

Volgens die Johannesburgse Metropolisie (JMPD) is nooddienste op die toneel en word die situasie hanteer. JMPD-lede is onderweg om met verkeersbeheer, die bestuur van die toneel en herleiding te help. Die N1 kan deur die Allandale- of Olifantsfonteinweg (M38)-wisselaars gebruik word om die New Road/R101-kruising te vermy. Motoriste kan ook Olifantsfonteinweg noordwaarts of Allandaleweg suidwaarts gebruik. Plaaslike verkeer kan Leverweg of Daleweg oorweeg.

Nuusflits het burgerlugvaart-kommentaar gevra.

Foto’s: Vision Tactical