KWAZULU-NATAL. – Ntobeko Simphiwe Xaba (5), ’n gr. R-leerling aan Laerskool Isipingo, word sedert Vrydag 22 Augustus 2025 vermis. Volgens inligting het Simphiwe se ma Vrydagmiddag ’n oproep van ’n onbekende nommer ontvang waartydens ’n losprys van R50 000 vir die kind se veilige terugkeer geëis is.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê in ‘n sosialemediaplasing die kind is laas gesien terwyl hy buite sy huis in Q-seksie, Umlazi, gespeel het. Hy het ten tyde van sy verdwyning ’n geel sweetpakbaadjie en donkerblou kortbroek aangehad. Rusa sê daar bestaan ’n vermoede dat ’n buurvrou hom moontlik ontvoer het, hoewel dit nog nie amptelik bevestig is nie. Ooggetuies het haar glo saam met die kind gesien. Sy het intussen gevlug en is steeds op vrye voet.
Enigiemand met inligting betreffende die gebeure word gevra om Rusa by 086 1234 333 te bel.
Nuusflits het polisiekommentaar gevra.