INTERNASIONAAL. – Vir Alex en Oliwia van Bydgoszcz, Poland, was liefde letterlik en figuurlik in die lug toe Alex Sondag vir Oliwia om haar hand gevra het. Die vraag kon weens Jacek, hulle vlieënier, se behendigheid deur almal op Flightradar24 gesien word.

Alex het Jacek in September genader en sy plan om vir Oliwia te vra om te trou, in aksie gestel. Met Jacek se beplanning het hulle Sondag met ‘n Robinson R44-helikopter opgestyg en het dit ongeveer ‘n uur se vlieg gekos om die woorde en ‘n hart met ‘n vlugplan uit te stip. Jacek moes lugspasie en -verkeer in ag neem om die plan te laat werk.
Jacek het soos afgespreek vir Alex beduie, waarna hy vir Oliwia gevra het om op die Flightradar24-toep na hulle vlugroete te kyk.
Sy het die vraag op die toep op haar foon gesien en Alex het die ring te voorskyn gebring. Alles het volgens plan verloop en Oliwia het die jawoord gegee.
Bronne: Flightradar24, BBC en UK News in Pictures





