GAUTENG. – Verdagtes, van wie twee bankwerknemers, verskyn vandag (Maandag) in die Tembisa-landdroshof nadat ‘n bank in Ivory Park glo op 27 November van meer as R3 m. beroof is.
Lt.kol. Mavela Masondo sê twee vroulike bankwerknemers het glo saam met nog twee verdagtes gewerk, om die bank in Ivory Park Mall te beroof. ‘n Span speurders, die Valke, misdaadintelligensie en hoofwegpatrollie het tydens ‘n ondersoek inligting bekom.
Die polisie is binne 48 uur na die beweerde bankroof na Rosslyn in Pretoria gelei waar die eerste verdagte Vrydag gearresteer is. Die tweede verdagte en ook die vermoedelike meesterbrein, is ook Vrydag in Ga-Rankuwa vasgetrek. Bankkoeverte met bankkaarte van kliënte, wat tydens die beweerde bankroof gevat is en ‘n VW Golf wat onlangs in Pretoria-Noord as gekaap aangemeld is, is in sy besit gevind.
Masondo sê Saterdag is die bankwerknemers, een by die werk en die ander in Midrand, gearresteer.
Nog verdagtes word gesoek.
Die vier verdagtes wat in hegtenis geneem is, verskyn vandag op aanklagte van sakeroof, besit van ‘n gekaapte voertuig en die besit van gesteelde eiendom in die hof.





