GAUTENG. – Nonkululeko Mbatha (44) is tot twee keer lewenslank tronkstraf gevonnis nadat sy skuldig bevind is aan die moord op haar twee kinders, onderskeidelik nege jaar en sewe maande oud.
Regter Mfenyana het die vonnis in die Gauteng-hooggeregshof, wat in Palm Ridge sit, opgelê. Die kinders is in Februarie 2025 dood nadat hul ma hulle na bewering vergiftigde kos gegee het. Magaboke Mohlatlole, NVG-wooordvoerder, sê die hof het gehoor dat Mbatha op 5 Februarie 2025 die kos met gif gemeng en dit aan haar kinders by hul huis in Zuurbekom, Westonaria, gegee het. Die jonger kind is op die toneel dood, terwyl die ouer kind dae later in die hospitaal beswyk het. Mbatha het ook, klaarblyklik in ’n poging om haar eie lewe te neem, van die vergiftigde kos geëet, maar het oorleef.
Sers. Mokgalagadi van die Westonaria-polisie het die ondersoek gelei. Die hof het gehoor dat Mbatha vooraf verskeie pakkies gif en kos by ’n plaaslike wegneemete-onderneming gekoop het. Sy het ook foto’s en video’s van die kinders geneem terwyl hulle in nood verkeer het en dit met familie en vriende gedeel. ’n Selfdoodbrief wat aan die pa van een van die kinders gerig is, is ook gevind.
Rolene Barnard, die senior staatsadvokaat, het gevra dat swaar vonnisse opgelê word. Sy het aangevoer dat Mbatha die vertroue wat haar kinders in haar as hulle ma gestel het, misbruik het en verskeie stappe vooraf gedoen het om die misdade te pleeg. Regter Mfenyana het bevind dat Mbatha meer as een geleentheid gehad het om van plan te verander. Die hof het ook die opname van die kinders se laaste oomblikke as ’n verswarende faktor beskou.