NOORD-KAAP. – ‘n Man van Loeriesfontein, teen wie ‘n beskermingsbevel uitgereik was is vir verskeie klagtes, wat aanranding met die doel om ernstig te beseer en seksuele aanranding insluit, is tot 30 jaar in die Calvinia-landdroshof gevonnis. Hy sal tot 10 jaar in die tronk deurbring.
Lt.kol. Sergio Kock sê hy het op 16 Mei 2023 omstreeks 04:30 onder die invloed van drank by die huis aangekom en met sy vrou in ‘n argument betrokke geraak. Die argument het geëskaleer en die man het sy vrou erg aangerand, waarna hulle dogter vir haar ma in die bres getree het. Die pa het haar met ‘n glasbak oor die kop geslaan en haar daarna seksueel aangerand.
Nadat die slagoffers die polisie gekontak het, is die man vir die oortreding van ‘n beskermingsbevel in hegtenis geneem.
Die man is op aanklag 1- aanranding met die doel om ernstig te beseer 10 jaar, aanklag 2 – seksuele aanranding 5 jaar, aanklag 3 – aanranding met die doel om ernstig te beseer 10 jaar, aanklag 4 – die oortreding van ‘n beskermingsbevel vir 5 jaar gevonnis.
Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word en hy sal 10 jaar daarvan in die tronk deurbring.
Lt.genl. Koliswa Otola het speur.sers. Jaco Swarts met die vonnis gelukgewens.





