GAUTENG. – Zandile Palesa Muthwa (41) en Pulane Mary Muthwa (71)’n ma en dogter, het vroeg in Desember op aanklagte van diefstal, bedrog en die onregmatige onderskepping van data in die Palm Ridge- gespesialiseerde misdaadhof verskyn. Die ma en dogter is elk op borgtog van R1 000 vrygelaat.
Luidens ‘n verklaring deur AO Thatohatsi Mavimbela van die Valke, het Pam Golding Properties ’n e-pos ontvang wat glo van ’n kliënt afkomstig was. Daarin is gevra dat meer as R4 miljoen in ’n Nedbank-rekening betaal moet word. Die maatskappy het later ontdek dat die geld nie die kliënt bereik het nie en dat die rekening aan Zandile Muthwa behoort, wat geen verbintenis met die maatskappy het nie. ‘n Ondersoek het onthul dat Muthwa van die geld na verskeie rekeninge oorgeplaas het, waaronder een van Pulane Muthwa, waarin R85 000 gestort is.
Die ma en dogter het hulle op 1 Desember by die owerhede aangemeld. Hulle saak is tot 24 Maart 2026 vir verdere ondersoek uitgestel.





