KWAZULU-NATAL. – ’n Ma en haar volwasse dogter is Woensdagmiddag in Amaoti doodgeskiet, toe gewapende mans hul huis binnegedring het.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê beamptes is omstreeks 20:40 ná die aanmeld van ‘n skietvoorval na die toneel ontbied. Volgens die oorlewende familielid, die eggenoot en pa van die oorledenes, was die gesin in die sitkamer toe hy ’n geluid uit die kombuis hoor. Toe hy gaan ondersoek instel, het hy twee gewapende mans in swart klere en met maskers gesien wat glo deur die kombuis toegang tot die huis verkry het. Hy het sy vrou en dogter gewaarsku en na ’n slaapkamer gehardloop. Die verdagtes het toe die twee vroue in die sitkamer oorval en verskeie skote op hulle geskiet voordat hulle van die toneel gevlug het.
Nooddienspersoneel het die twee vroue op die toneel dood aangetref. Drie patroondoppies is gevind. Daar was geen teken dat iets uit die huis gesteel is nie. Die motief vir die aanval is nog nie bekend nie en die polisie ondersoek die saak.





