NOORDWES. – ‘n Ma (42) en haar twee kinders, ‘n seun (12) en dogter (13), is Vrydagoggend om 03:30 deur twee verdagtes, wat vermoedelik toegang tot die huis gekry het deur ‘n veiligheidshek en deur oop te breek, in hulle huis op die Elandsdrift-plotte in Mooinooi aangeval.
Kol. Adéle Myburgh sê aan Nuusflits die ma het wakker geword toe ‘n flits in haar gesig geskyn is. Sy het geskree, waarna sy aangerand en onder meer gesigbeserings en ‘n gebreekte hand opgedoen het. Sy en haar kinders is saam vasgebind, waarna die huis geplunder en die aanvallers met rekenaartoerusting en ‘n selfoon van die toneel gevlug het. Die ma se ouers woon naby en het die gille gehoor, waarna haar pa ondersoek ingestel en die ma en kinders losgemaak het.
Die vrou is na ‘n plaaslike hospitaal geneem, maar is Saterdag reeds ontslaan.
Enigiemand met relevante inligting kan die ondersoekbeampte, sers. Tshepo Majola, by 082 498 2885 bel.





