VRYSTAAT. – ’n 31-jarige ma van Phuthaditjhaba is deur die plaaslike hof tot ses maande gevangenisstraf gevonnis nadat sy haar 8-jarige dogter aangerand het. Die vonnis is vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat die vrou nie gedurende dié tydperk aan ’n soortgelyke misdryf skuldig bevind word nie.
AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê die voorval het op 7 Augustus 2025 plaasgevind, waarna die departement van maatskaplike ontwikkeling ’n klagte oor die beweerde mishandeling van die kind deur haar ma ontvang het. Die ma het die kind glo gevra om na ’n 1-jarige kind om te sien, terwyl sy uitgegaan het om alkohol te gebruik.
Sy het die 8-jarige daarna glo met haar stewels geskop, wat ’n besering aan die kind se oog veroorsaak het. ’n Saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer is by die polisie aanhangig gemaak en deur AO Moeti van die Phuthaditjhaba-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek. Die saak is deur die staatsaanklaer, me. Nteo, hanteer en landdros Msimanga het die saak aangehoor.