GAUTENG. – Mpho Selina Madule (39) is deur die Roodepoort-landdroshof tot lewenslange tronkstraf gevonnis, nadat sy haar pasgeborene op 12 April 2020 doodgemaak het.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê volgens AO Clifford Alcock het die pa van die pasgeborene aan nooddienste gesê die baba het tydens geboorte seergekry. Paramedici wat die pasgeborene ondersoek het, het beserings ontdek, waarna die baba na Leratong-hospitaal geneem is, maar aan die beserings gesterf het.
Na getuienislewering van onder meer twee dokters oor die beserings, wat deur ‘n skerp voorwerp, vermoedelik ‘n mes of skêr, toegedien is, is Madule aan moord met voorbedagte rade skuldig bevind. Die baba se sleutelbeen is ook gebreek deur geweld wat toegepas is.
Die ma het deur haar prokureur verduidelik sy het die toilet gebruik en het skielike krampe gevoel. Sy het gekniel en die baba is gebore. Sy het beweer die pasgeborene het per ongeluk geval en het beserings opgedoen.
Sipho Makhubo, die streekhofaanklaer, het argumenteer die moord van die pasgeborene was met voorbedagte rade en Madule het misluk daarin om verantwoordelikheid vir haar aksies te probeer ontduik; die baba is herhaaldelik gesteek en dit het tot dood gelei.
Landdros Ettienne van Niekerk het tydens vonnisoplegging die beskuldigde se getuienis as oneerlik bestempel en gesê daar bestaan geen versagtende omstandighede nie; die vonnis weerspieël die erns van die misdaad.





