NOORD-KAAP. – ‘n Vrou (34) is in die Carnarvon-streekhof skuldig bevind aan kinderverwaarlosing en kindermishandeling, nadat sy haar jong kinders alleen in ‘n huis toegesluit en gaan drink het. Sy is tot 18 maande gevangenisstraf gevonnis, wat vir vyf jaar in geheel opgeskort is op voorwaarde dat sy nie gedurende dié tydperk weer aan ‘n soortgelyke misdryf skuldig bevind word nie.
AO Molefi Shemane, polisiewoordvoerder, sê die voorval het in November 2025 plaasgevind. ‘n Getuie het die klaer ingelig dat die beskuldigde haar 1-jarige seun en 4-jarige dogter sonder toesig in die huis gelos het. Volgens die getuie was dit ook nie die eerste keer dat die kinders alleen gelaat is nie.
Die saak is by die polisie en maatskaplike dienste aangemeld. Ná ‘n assessering deur die departement is die twee kinders tydelik in die sorg van hul grootouers geplaas. Die beskuldigde is in hegtenis geneem en later hangende haar hofverskyning op borgtog vrygelaat. Sy het op 29 Junie op die aanklagte teen haar skuldig gepleit en is daarna gevonnis.
Die bestuur van die Pixley Ka Seme-distrik het die skuldigbevinding en vonnis verwelkom en speur.konst. Tomeletso Louw van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) in Carnarvon geloof vir haar deeglike ondersoek wat tot die suksesvolle vervolging van die saak gelei het.





