Ma vertel van trauma ná skoolbus met hokkiespelers rol

Lees ook :

Foto's: Gerda Roth

VRYSTAAT. – Mia Roth, ’n leerling van Hoërskool Salomon Senekal in Viljoenskroon, is beseer nadat die skoolbus waarin sy en ander leerlinge Vrydag op pad was na ‘n hokkietoer in Bloemfontein, in ’n ongeluk betrokke was en gerol het. Sy het vyf rugwerwels gebreek en is vir die volgende ses weke op streng bedrus, terwyl sy 24 uur per dag ’n rugstut moet dra.

Gerda Roth, Mia se ma, vertel op sosiale media oor die oomblik toe sy die oproep met skoknuus van haar dogter ontvang het. “Mamma, die bus het gerol… my rug is seer,” het Mia deur trane gesê. Volgens haar was dit ’n oomblik van intense vrees en magteloosheid, veral omdat sy nie dadelik by haar kind kon wees nie en nie geweet het hoe ernstig die situasie is nie. Sy sê die emosionele impak van haar kind se pyn en angs is iets wat geen ouer behoort te beleef nie.

Die familie het hul dank uitgespreek teenoor die personeel van Hoërskool Salomon Senekal in Viljoenskroon, asook ouers, leerlinge en ander persone wat onmiddellik op die toneel gehelp het. Spesiale waardering is ook uitgespreek teenoor die ouers wat saam met Mia hospitaal toe is en by haar gebly het totdat haar eie ouers kon oorneem. Verder is die personeel van RH Matjhabeng-hospitaal bedank vir hul sorg en ondersteuning, asook familie en vriende wat gebel, boodskappe gestuur en gebid het.

Gerda sê ten spyte van die erns van Mia se beserings, is hulle dankbaar dat dit nie erger was nie en glo hulle dat Mia ten volle sal herstel.

Lees Gerda se vertelling hier onder:

Hokkietoer 2026!

Om ’n oproep van jou kind te ontvang wat sê: “Mamma, die bus het gerol… my rug is seer,” is iets wat ek steeds sukkel om in woorde te beskryf. Daardie oomblik van skok, die intense vrees en onsekerheid, die gevoel van totale magteloosheid en om geen beheer oor die situasie te hê nie, is iets wat geen ouer ooit behoort te beleef nie. Mia het vreeslik gehuil, en ek kon haar amper nie hoor nie. Daardie klank van jou kind se stem, vol pyn, vrees en trane, sny deur ’n mens se hart op ’n manier wat moeilik is om te beskryf. Die wete dat jy nie weet wat aangaan nie, dat jy nie by jou kind kan wees in daardie oomblik nie, en dat alles buite jou beheer voel, is ’n gevoel wat ek nie kan beskryf nie. Dit is werklik iets waardeur ek nooit ooit weer wil gaan nie. Met ’n dankbare hart wil ons graag ons opregte waardering uitspreek teenoor elke persoon wat in hierdie moeilike tyd vir Mia en ons familie daar was.

Baie dankie aan al die Personeel van Salomon Senekal Viljoenskroon, ouers, kinders en almal wat by die toneel betrokke was en onmiddellik gehelp en ondersteuning gebied het vir Mia en haar maats. Julle vinnige optrede, liefde en omgee het vir ons ongelooflik baie beteken. ’n Spesiale dankie aan die hoofdogter se mamma wat saam met Mia in die ambulans hospitaal toe gery het. Baie dankie ook aan haar en haar ma en pa wat by die hospitaal gebly het totdat ons die versekering gehad het dat Mia okay gaan wees. Julle liefde, ondersteuning en teenwoordigheid in daardie oomblikke sal ons nooit vergeet nie. Ons wil ook die Hoof en die beheerraad lid opreg bedank vir julle ondersteuning en dat julle gekom het om ons by te staan. Dankie aan elke persoon wat gebel, boodskappe gestuur en saam met ons gebid het.

’n Opregte woord van dank ook aan die personeel by RH MATJHABENG hospitaal. Julle was ongelooflik goed vir Mia, het haar met soveel sorg en vriendelikheid hanteer en alles moontlik gedoen om haar gemaklik en rustig te hou. Veral haar sussie ook Michelle Janse van Rensburg wat haar vir niks gelos het nie en daar was elke oomblik.

Bo alles gee ons al die eer en dank aan ons Hemelse Vader vir Sy genade, beskerming en guns oor elke onderwyser, leerder en die drywer van ons skool bus. Ons weet dit is deur Sy hand dat almal veilig bewaar is.

Mia het vyf rugwerwels gebreek en is vir die volgende ses weke op streng bedrus. Sy moet 24 uur per dag ’n rugstut dra en mag nie sit of loop nie, behalwe net vir die nodigste, sodat haar rug behoorlik kan genees. Sy ervaar steeds baie pyn, maar ons vertrou en glo vir volkome herstel. Baie dankie aan almal vir julle liefde, ondersteuning en gebede. Dit beteken vir ons meer as wat woorde kan beskryf.

Gerda het ook die volgende plasing in die kommentaar gemaak: Anette McDonald al die kinders is veilig. Daar’s van haar maats met snye, stampe seer arms en bene en vir seker trama sover ek kennis dra. Die juffrou wat langs Mia gesit het se sleutelbeen is gebreek, en moes dit in teater reggemaak word en sy het wonde met steke en skrape. En soos ek verstaan, gaan dit met haar ook goed. Dit kon soveel erger gewees het, maar ons is dankbaar dat dit nie was nie en dat almal se lewe gespaar is en nie almal se beserings ernstig is nie . Dankie vir die omgee.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief