NOORDWES. – Ses sake word ondersoek nadat drie werknemers van ’n maatskappy wat vesel installeer Vrydagmiddag glo deur gemeenskapslede in Lethabong aangeval is.
Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die sake sluit onder meer openbare geweld, aanranding met die doel om ernstig te beseer, ontvoering, roof met ’n gevaarlike wapen anders as ‘n vuurwapen, kwaadwillige saakbeskadiging en die aanval op polisiebeamptes in.
Volgens voorlopige inligting is die drie mans glo deur ’n groep mense voorgekeer en aangerand. Twee van die slagoffers het ernstige beserings opgedoen en moes hospitaal toe geneem word vir behandeling. Daar word verder beweer dat die slagoffers teen hul wil aangehou is, wat tot ’n ontvoeringsaak gelei het. Tydens die voorval is hulle ook van hul besittings beroof. Die werksvoertuig, ’n Suzuki Swift, is glo voor die Lethabong-polisiestasie uitgebrand.
Myburgh sê ‘n verdagte is reeds in hegtenis geneem en sal na verwagting binnekort in die hof verskyn. Die ondersoek duur voort en nog inhegtenisnemings kan volg. Enigiemand met inligting kan kapt. Lesego Ntsimande by 082 822 3194 bel.





