GAUTENG. – Sarathamoney Devi Sigamoney (67) moet R138 593, met rente van 11.25% per jaar, aan die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) terugbetaal. Sigamoney is op aanklagte van meineed, bedrog en diefstal skuldig bevind.
Henry Mamothame, woordvoerder van IDAC (Investigating Directorate Against Corruption) vir die NVG, sê die Pretoria-Noord-streekhof het ná die skuldigbevinding ‘n beslagleggingsbevel aan die batebeslagleggingseenheid (AFU) toegestaan.
“Sy het die pensioenuitbetaling van Sassa bedrieg, terwyl sy die enigste direkteur van ‘n maatskappy was wat tenders ter waarde van sowat R88 miljoen van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gekry het om tussen 2017 en 2022 kantoormeubels te verskaf.”
Mamothame sê die bedrag wat Sigamoney met rente aan Sassa moet terugbetaal, word bereken vanaf die datum van hierdie bevel tot die datum van betaling.
Sigamoney moet bewys van betaling aan die staat verskaf. Die saak is vir vonnisoplegging tot 14 Januarie 2025 uitgestel.
“Dit is die NVG se strategie om die verbeurdverklaringsbevoegdhede van die AFU te gebruik om die opbrengste van misdaad terug te neem na die staat, om te verseker dat misdaad nie betaal nie.”





