MIDDELBURG, MPUMALANGA. – Anthony Joubert (36) is Saterdagmiddag uit die kake van ’n krokodil gered nadat dié hom voor sy gesin en vriende in ’n plaasdam se vlakwater beetgekry het.
Die voorval het tussen Middelburg en Loskopdam op gemeenskaplike vriende se plaas gebeur.
Omstreeks 17:00 het Anthony sy seun gehelp om ’n vis uit die dam te trek, wat ’n eerste vir die dag sou wees. Sy vriende en gesin moes egter toekyk hoe ’n vier meter lange krokodil sy kake om Anthony se heupe sluit.
Anthony het sonder sukses teen die krokodil geveg en selfs sy vingers in die krokodil se oë gedruk.
Annalize, sy vrou, het ’n boomstomp gegryp en die krokodil op sy kop geslaan. Sy vriend, Johan het ’n pistool gaan haal en skote in die lug afgevuur. Volgens die omstanders het die geraas en die kinders wat gegil het, moontlik die krokodil laat los. Die dier het weer in die water verdwyn.
Anthony is in die Life Midmed-hospitaal opgeneem waar hy behandeling ontvang.
Bronne: Potchefstroom Herald, Caxton




