HARTSWATER – ’n Man is gister hiér deur sy eie boerboel doodgebyt.
Piet Lategan (80) is gister omstreeks 16:30 deur sy boerboel aangeval en doodgebyt. Lategan is in sy huis oorlede nadat sy verloofde dit reggekry het om hom in te sleep na die voorval.
Harde reën en hael
Betsie Swanepoel, Lategan se dogter, sê dit het hard begin reën en hael. Hy wou sy motor se een kant met ’n kombers bedek om dit teen die hael te beskerm. “My pa en sy verloofde, Santa Venter (64), het uitgegaan om die motor te gaan bedek, toe die hond eers vir Santa aan die rok gryp. Sy het haar rok weggeruk.”
Verbouereerde hond byt
“Ons weet nie was dit die harde geluide van die hael op die sinkdak nie, maar die hond het verbouereerd geraak. Hy het op my pa gespring en hom gebyt. My pa het agteroorgeval en die hond het bo-op hom gaan staan en hom verder in sy gesig en nek gebyt.”
Hond wou nie ophou
Swanepoel sê haar pa se verloofde het probeer om die hond van hom af te kry en het selfs ’n kierie op die hond stukkend geslaan, maar die hond het nie opgehou nie.
In die huis in gesleep
Venter het dit reggekry om vir Lategan in die huis in te sleep en die veiligheidsdeur toe te klap. Die dokter is ontbied, maar Lategan het sy laaste asem uitgeblaas net soos wat die dokter opgedaag het.
Hond was nie aggressief
Swanepoel sê die hond is drie jaar oud en was nog nooit aggressief nie. “Iets moes hom laat skrik het. Hy het nooit van harde geluide gehou nie.”
Nie die dokter of die polisie kon die perseel betree met die hond nie. Die hond is toe geskiet.
Waarskuwing aan ander
Swanepoel sê dit is ’n waarskuwing aan ander om versigtig te wees. Die vuurwerke en klappers, sowel as harde geluide kan honde aggressief maak. “Mens dink nie so iets sal ooit gebeur nie.”
Begrafnisreëlings sal later getref word.