KWAZULU-NATAL. – ’n Man in sy 60’s is vroeg Saterdagoggend dood en sy vrou ernstig beseer nadat ’n bakkie waarin hulle gery het, eers in Bowenlaan in Umbilo, Durban omgeslaan en toe teen ’n elektriese paal tot stilstand gekom het.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê dié diens was net voor 02:00 op die toneel. Die Ethekwini-brandweer is onmiddellik ontbied om bystand te verleen. Paramedici het die bestuurder buite die wrak aangetref. Hy is glo tydens impak van die botsing uit die voertuig geslinger en het noodlottige beserings opgedoen. Hy is op die toneel dood verklaar. Sy vrou is met ernstige beserings in die wrak aangetref. Nadat sy gestabiliseer is, is sy uit die wrak bevry en deur ‘n ALS-ambulans na ’n nabygeleë hospitaal geneem.
Die oorsaak van die ongeluk is in hierdie stadium onbekend. Die SAPD was op die toneel en ondersoek die voorval.





