KWAZULU-NATAL. – ‘n Man (31) wat glo minderjarige meisies seksueel aangerand het, is Maandagmiddag in Zwelisha dood aangetref met beserings aan sy kop en sweepmerke op sy lyf.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê hulp is ontbied nadat ‘n groep mense die man na bewering doodgemaak het. Rusa het na 13:00 op die toneel aangekom waar die lewelose man buite ‘n huis op ‘n bank aangetref is.
‘n Pa van ‘n meisie (10) het Rusa-beamptes ingelig sy dogter is na bewering een van vier slagoffers, tussen 4 en 11 jaar oud, wat gedurende 2024 seksueel deur die oorledene aangerand is. Die pa het voorts verduidelik die oorledene sou na bewering minderjarige meisies wat in dieselfde gebied as hy bly, oortuig om saam met hom snoepwinkel toe te gaan. Hy sou dan vir hulle lekkergoed koop, waarna hulle dan seksueel aangerand is.
Maandagoggend het ‘n ouer van ‘n slagoffer glo die man naby Phoenix opgemerk. Met hulp van die gemeenskap is hy aangekeer, waarna hy glo aangerand is en gesterf het.





