KWAZULU-NATAL. – ’n Man (32) is Sondagoggend in albei dye tydens ‘n voorval op ’n varkplaas geskiet. Hy het onbekende mans op die betrokke plaas in Waterloo Fase 6 ondervra, toe daar na bewering van agter op hom geskiet is.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê dié diens het omstreeks 00:50 ’n oproep oor ’n skietery ontvang, waarna beamptes na die toneel ontplooi is. Met hul aankoms het hulle die beseerde man met twee skietwonde aan sy dye op ’n paadjie op die varkplaas aangetref.
Volgens die slagoffer is hy privaat in diens om vragmotors by ’n nabygeleë perseel op te pas. Hy is glo na die varkplaas nadat hy drie onbekende mans opgemerk het. Terwyl hy hulle ondervra het, het nog twee verdagtes na bewering van agter nadergekom en op hom losgebrand.
Die beseerde man is vir behandeling na ’n mediese fasiliteit geneem, terwyl ondersoek na die skietery voortduur.





