OOS-KAAP. – ’n Jong man (18) is in hegtenis geneem nadat ’n 4-jarige seuntjie Sondagoggend vroeg by ’n huis in Walme dood aangetref is.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg sê die polisie het voor 02:00 op ‘n moordklagte by ’n woning in Tshangastraat gereageer, waar die kind se liggaam in die huis ontdek is. Volgens inligting het die 4-jarige seuntjie glo saam met sy ouer broer in ’n aparte kamer geslaap. Sy ouers het na bewering onraad vermoed en gaan ondersoek instel. Hulle het hom bebloed aangetref en hulp ontbied. Die verdagte, ’n buitelandse burger, is op die toneel in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting gedurende die week in die landdroshof in Gqeberha verskyn.
Die rede vir die voorval is nog nie bekend nie en word ondersoek.





