WES-KAAP. – Reagan Davis (35) is deur die hooggeregshof tot twee keer lewenslange én addisionele tronkstraf gevonnis vir die kontrakmoord op Hashim Ahmed Dennis (75) en poging tot moord op Kulsoem Dennis (70), op 31 Januarie 2020. Davis en Brent Williams is albei vir die misdade beskuldig, maar Williams het in Februarie gesterf, kort voor die staat sy saak gesluit het.
Eric Ntabazalila, provinsiale NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die egpaar is op 31 Januarie 2020 in hul woonstel in Northpine, Brackenfell, aangeval terwyl hulle vir die oggendgebed voorberei het. Brent Williams, die egpaar se skoonseun, Ibtisaam Dennis, sy vrou, en hulle twee kinders het in ‘n aparte woning, maar op dieselfde erf as die ouers, gewoon. Daar was spanning in hulle huwelik en Williams het vir Davis en nog ‘n onbekende verdagte gehuur om sy skoonouers aan te val om sodoende van sy “huweliksprobleme” ontslae te raak.
Brent Williams is op geslotekringtelevisie gesien toe hy kort na 04:00 die oggend saam met twee mede-beskuldigdes in sy maroenkleurige bakkie tot in die omgewing van die moordadres gery en die twee afgelaai het. Hy het daar gewag totdat die misdaad klaar gepleeg is. Die beskuldigdes het toegang deur ‘n veiligheidshek verkry. Die skuifdeur na die bejaarde egpaar is gewoonlik oop gelos sodat die dogter en kleinkinders maklike toegang tot die huis kon hê.
Terwyl Hashim Dennis met ‘n reinigingsritueel in die badkamer besig was, het sy vrou op die bed gesit en uit die Koran gelees. Kulsoem Dennis het gehoor hoe daar in Afrikaans vir geld gevra word, waarna sy met ‘n vuurwapen op die kop, nek en bors geslaan is. Sy het op die grond geval en voorgegee om dood te wees. Haar burka het oor haar gesig geval en sy het haar oë toegehou. Sy kon hoor hoe die kamer geplunder word. Haar man is aangeval toe hy uit die badkamer kom. Toe dit stil raak, het Kulsoem opgestaan en haar man bloeiend met 15 steekwonde aangetref.
Haar dogter het die geraas gehoor en ondersoek ingestel, waartydens sy ‘n aanvaller met ‘n mes teëgekom het. Sy kon daarin slaag om te vlug en die skuifdeur toe te maak om haarself en die kinders veilig te hou. Sy het die polisie en haar suster gebel. Die twee aanvallers is ná die aanval deur geslotekringtelevisie opgeneem waar hulle na Williams se bakkie hardloop, inklim en wegry.
Hashim is op die toneel dood verklaar. Die polisieondersoek het die egpaar se skoonseun as die meesterbrein van die aanval onthul, waarna Williams op 20 Mei 2020 in hegtenis geneem is. Davis is op 10 Junie 2020 in hegtenis geneem.
Evadne Kortjé, die senior staatsadvokaat, het bewys die moord was op kontrak uitgevoer. Davis is R1 000 vir die moord betaal, wat hy gebruik het om skoene te koop. Hy is skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te moor, roof met verswarende omstandighede, poging tot moord op beide Kulsoem en Ibtisaam Dennis en die voorafbeplande moord op Hashim Dennis. Die hof het Davis vir huisbraak met die doel om moord te pleeg direk 15 jaar, roof met verswarende omstandighede direk 15 jaar, vir poging tot moord van Kulsoem Dennis lewenslank, vir poging tot moord van Ibtisaam Dennis direk 10 jaar en vir moord met voorbedagte rade op Hashim Ahmed Dennis lewenslank gevonnis. Die hof het beveel dat die vonnise vir huisbraak om moord te pleeg, roof met verswarende omstandighede en poging tot moord van Ibtisaam Dennis gelyktydig met die twee lewensvonnisse uitgedien moet word.
Adv. Nicolette Bell, die direkteur van openbare vervolging, het die ondersoek-en-vervolgingspan vir hulle werk geprys. Die Nasionale Vervolgingsgesag het die vonnis verwelkom.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





