Man gevonnis wat ma aanrand en aan brand steek

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

MPUMALANGA. – Bongani Thulani Matsane (33) het op 14 Desember 2022 sy ma Thembi Ngwenya (64) met ‘n handskoffel oor die kop geslaan, haar aangerand en aan die brand gesteek. Hy is Vrydag gevonnis.

Monica Nyuswa, woordvoerder vir die NVG, sê die hooggeregshof het hom lewenslank vir moord en addisioneel tot ‘n verdere vyf jaar vir regsverydeling gevonnis. Matsane het sy ma van heksery verdink. Ma en seun het saam in Mganduzweni in die Nsikazi-distrik gebly. Hy het in Desember gevra sy moet ophou om hom te “toor”, aangesien dinge in sy lewe nie wel was nie en hy ingelig is dit is as gevolg van heksery.

Op die betrokke aand het die oorledene Matsane winkel toe gestuur. Hy het teruggekom, ‘n handskoffel gevat en haar van agter oor die kop geslaan. Sy het vir hulp na buite gevlug, waarna hy haar gevolg en aanhou aanrand het tot sy ineengestort het. Sy is daarna in haar kamer ingesleep en op haar bed aan die brand gesteek. Matsane het daarna die bloedvlekke van die vloer gevee.

Hy is nog dieselfde dag in hegtenis geneem.

Tydens die verhoor is die oorledene se ander twee seuns se slagofferimpakverklarings aan die hof oorhandig. Ter verswaring tydens vonnisoplegging is die manier hoe die oorledene doodgemaak is en die mishandeling van die bejaarde in ag geneem.

“Die hof het beveel dat die vonnis gelyktydig uitgedien word, effektief sal die beskuldigde lewenslange gevangenisstraf uitdien. Die hof het die beskuldigde verder ongeskik verklaar om met bejaardes te werk.”


Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App