MPUMALANGA. – ‘n Onbekende man se gedeeltelik ontbinde liggaam is Woensdag langs ‘n treinspoor in Vosman, naby Witbank ontdek. Vosman-polisie is op soek na verdagtes in ‘n geregistreerde moordsaak.
Kol. Donald Mdhluli sê die liggaam is deur sekuriteitsbeamptes ontdek wat patrollies by die treinspoor gedoen het, waarna die polisie ontbied is. Met aankoms op die toneel het dit gelyk asof die ontbindende liggaam na alle waarskynlikheid eers aangerand is en toe op die treinspoor gegooi is. Die liggaam is verder gedeeltelik uitmekaargeruk as gevolg van ‘n trein wat na bewering daaroor gery het.
Enigiemand wat die polisie met inligting in hulle ondersoek kan help, word versoek om speur.lt.kol. Muntu Mbatha by 082 600 8537 te bel. Daar word na die naasbestaandes van die oorledene gesoek.





