KWAZULU-NATAL. – ‘n Man (37), is Saterdag na bewering ontvoer, aangerand en toe vir dood in ‘n bos in Southridge gelaat, waar hy Sondag gekry is.
Reaction Unit South Africa sê hulle is na Crasula-rylaan ontbied waar ‘n man met sy hande en voete vasgebind en sy mond toegeplak deur inwoners gevind is.
Reaksiebeamptes was omstreeks 10:20 op die toneel waar hy aan hulle vertel het hy en sy broer het Saterdagmiddag in Garlandstraat in Temple Valley gestap toe insittendes van ‘n wit dubbelkajuit-bakkie hulle gekonfronteer het. Hy kon daarna glo niks onthou nie. Rusa sê hulle vermoed dit is te wyte aan ‘n kopbesering wat hy tydens die aanranding opgedoen het.
Hy het Sondag eers weer, in die bos waar hy gelos is, sy bewussyn herwin. Hy het hulp van die inwoners probeer kry. Die reaksiebeamptes het hom losgemaak. Sy broer kon nog nie opgespoor word nie. Die man glo hy is ook vir dood gelos.
Rusa sê ondanks sy beserings het die man mediese hulp geweier.






