LIMPOPO. – ’n Man (32) is in hegtenis geneem nadat twee kiesers na bewering foto’s van hul gemerkte stembriewe by ’n stemlokaal in die Humulani-nedersetting geneem het. Die voorval het Maandag by die stemlokaal van die Primêre Skool Chuchekani in Lulekani voorgekom.
Brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, sê die eerste voorval is omstreeks 10:00 aangemeld toe ’n 32-jarige man na bewering ’n foto van sy gemerkte stembrief geneem het nadat hy gestem het. Die voorsittende beampte het hom daarop gewys dat dit teen die verkiesingsreëls is. ’n Tweede man het na bewering omstreeks 13:40 dieselfde gedoen. Hy het glo aggressief geraak, die voorsittende beampte verbaal beledig en die stemlokaal verlaat.
Omstreeks 13:50 het een van die kiesers na bewering ’n foto van sy gemerkte stembrief op sy sosialemedia-status geplaas. Die voorsittende beampte het albei voorvalle by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) aangemeld en is aangeraai om ’n saak by die polisie te open.
Die saak is eers aangemeld nadat die stemlokaal gesluit het en albei mans reeds vertrek het. Die 32-jarige verdagte is Dinsdag 3 November in hegtenis geneem en sal na verwagting Donderdag 4 November in die Lulekani-landdroshof verskyn. ’n Soektog na die tweede verdagte duur voort.