VRYSTAAT. – Bongani Edward Mpondo (29) het in die Bultfontein-landdroshof verskyn op aanklagte van verkragting en moord ná die dood van ’n sewejarige meisie.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, sê Mpondo word verbind met die voorval wat na bewering op 9 Augustus in Khotha, naby Bultfontein, plaasgevind het. Volgens die staat het Mpondo die kind na ’n hut agter ’n RDP-huis gelok, waar hy haar na bewering verkrag en verwurg het. Haar liggaam is later deur haar susters onder ’n bed gevind.
Mpondo het tydens sy hofverskyning sy borgaansoek laat vaar en bly in aanhouding. Die saak is vir verdere ondersoek tot 29 Augustus uitgestel.


